GIMMIES VIR UITNEMENDHEID!

Langenhoven Gimnasium, geleë in Oudtshoorn, het nog altyd die potensiaal gehad om dié toonaangewende skool in die Suid-Kaap te word. Leerders wat aan hierdie skool vir hul onderrig en opvoeding toevertou is, vertel altyd met trots waar hulle vandaan kom.

Geleë aan die oewer van die Grobbelaarsrivier en aan die voet van die Swartberge, bied die skool `n rustige, veilige, plattelandse omgewing van waar leerders die wêreld kan verken.

Die skool beskik oor moderne seuns- en meisieskoshuise wat huisvesting bied aan leerders van so ver as Carnarvon, Bredasdorp en Victoria-Wes. Koshuisgimmies woon in ‘n omgewing waar hulle gelukkig en veilig is en ouers is gerus oor hul kinders se versorging.

Vir sport entoesiaste is daar oorgenoeg om oor opgewonde te raak: rugby-,hokkie- en krieketvelde, tennis- en netbalbane, `n swembad en gimnasium-, alles op die skoolterrein en binne veilige loopafstand. Die skool se toutrekspanne het hulle al menige suksesse op nasionale vlak behaal.

Leerders presteer in olimpiades, redenaarskompetisies, op toneelfeeste, verteenwoordig die skool by Nasionale VCSV-byeenkomste, skoolkoerantkursusse en leierskapseminare. Vir elke leerder is daar op buitemuurse gebied ‘n ruimte om sy of haar potensiaal te ontwikkel.

Die skool se visie is om positief en dinamies `n skool van uitnemendheid op akademiese, sport- en kultuurterrein te vestig en te handhaaf.

Die skool beskik oor vier ten volle toegeruste rekenaarlokale, `n biblioteek, `n uitmuntende tegniese afdeling met goed toegeruste werkswinkels en onderwysers wat hulself oor die jare heen op hul gebied onderskei het.

Die skool is een van die min skole in die land wat tegniese, handels- en akademiese onderrig in een skool aan leerders bied. In die klaskamers word hedendaagse tegnologie al meer ingespan, maar die ou waardes van onderwys bly steeds geld.

`n Belangrike aspek van onderrig is die persoonlike aandag wat elke leerder verdien. So word die balans gehandhaaf tussen beroepsgerigte onderwys en opleiding en die opvoeding van elke leerder.

In `n vinnige veranderende wêreld bly onderwys `n uitdaging, dit is egter `n uitdaging wat Langenhoven Gimnasium met sukses aanpak.

Tree vir tree stap Gimmies die pad vorentoe met selfvertoue.

Die skoolhoof, Mnr. Chris Swanepoel, en sy span toegewyde en passievolle beheerraadslede, tesame met `n ervare en hoogs gekwalifiseerde onderwyserskorps, is besig om `n gesamentlike visie vir die toekoms van hul skool te verwesenlik.

‘n Gimmie loop sy/haar wêreld tegemoet met ywer en ambisie. Hier glo ons dat elkeen hoë doelwitte moet stel. Hierdie woorde is waar vir die skool, personeel en elke leerder van Langenhoven Gimnasium.

Elke leerder word aangemoedig om sy of haar volle potensiaal te ontwikkel en uit te leef en op hierdie wyse word daar ook in die toekoms van elke leerder belê. Daar word ook belê in die noodsaaklike karaktervorming van elke leerder, asook in die vestiging van waardes.

Gimmies sal altyd netjies en gedissiplineerd wees, en met respek vir hulself en ander optree.

Vir die skool is daardie ideaal vervat in `n doelgerigte toekomsvisie. Dit sal nie maklik wees om die eerste keuse skool in die Suid-Kaap te word nie, maar die eerste dinamiese en belangrike tree is reeds gegee.

Die skool se toekomsvisie is gefundeer in `n waardestelsel gebou op Christelike beginsels.`n Afrikaanse karakter word gekoester-dit is nie om dowe neute dat hierdie skool die naam van C.J. Langenhoven dra nie! Gimmies is uitgesproke oor die waardes van hul skool. Hulle weet dat hierdie waardes en beginsels nie alleen ten doel het om van die skool `n sukses te maak nie. Elke leerder word hiermee toegerus om in die wêreld ‘n verskil te maak.

Die skool beklemtoon `n gemeenskap karakter deur die betrokkenheid van die ouergemeenskap, asook die breër plaaslike gemeenskap by die skool se leerders en aktiwiteite, maar maak ook op sy beurt ‘n bydrae deur die leerders betrokke te hou by gemeenskapsprojekte en -inisiatiewe.

In kort kan die skool se toekomsmissie as volg opgesom word: Leerders ontvang `n Christelike opvoeding wat fokus op die verryking van hul gees en die vestiging van `n waardesisteem wat werbaar is-nou en in die toekoms.

Geleë in `n mooi dorp met `n pragtige skoolkampus, wye vakkeuse, wonderlike leerders, toegewyde onderwysers en ondersteunende ouers, wink daar `n blink toekoms vir Langenhoven Ginmasium.

Copyright © 2010  ::  Langenhoven Gimnasium  •  Site by:  WebWorX