VAKKEUSE-INLIGTING VIR GRAAD 10

ENGELS HUISTAAL EN ENGELS EERSTE ADDISIONELE TAAL

Leerders kies reeds in graad 8 en 9 of hulle Engels op huistaalvlak wil neem. In gr.10 kan hulle dan voortgaan met Engels as Huistaal of skuif na Engels Eerste Addisionele Taal.

    Leerders wat met Engels Huistaal wil voortgaan, moet verkieslik:
  • 65% of meer vir Engels Huistaal in gr. 9 kry.
  • bereid wees om langer ure tuis aan Engels te werk.
  • ‘n mate van insig/taalaanleg hê.
  • bereid wees om die taalvaardighede wat by die Eerste Addisionele Taal-leerders gedril word, self te leer en in te oefen – omdat hulle nie Engels-moedertaalsprekers is nie.
  • gereeld Engels lees in sy/haar vrye tyd.

Antwoorde op vrae van leerders wat reeds Engels Huistaal neem: Leerders wil soms skuif omdat hul glo dat hul beter punte in Eerste Addisionele Taal kan kry en dit beter vir hul gemiddelde punt is, en dus ook vir keuringskursusse en koshuistoelating vir universiteit.

Met die akademies-sterk leerders is ons ervaring dat hulle nie noodwendig soveel beter doen in Eerste Addisionele Taal nie. Ons matriekuitslae van 2009 getuig daarvan: 5 A-gemiddeldes in Engels Huistaal teenoor 2 in Eerste Addisionele Taal – ten spyte van ‘n paar sterk Huistaal-leerders wat oorgeskuif het.

Wat keuring en koshuisplek betref: ‘n klein persentasie koshuisplekke word (by US en UP) bloot op grond van gemiddelde persentasie toegeken en dáár kan ‘n paar persent wel ‘n verskil maak. By keuringskursusse, soos medies, word daar op prestasie in spesifieke vakke, Wiskunde en Fisiese Wetenskappe, en soms ook Lewenswetenskappe, gefokus.

By alle universiteitskursusse is ‘n hoë mate van vaardigheid in Engels baie belangrik omdat die meeste handboeke en byna alle navorsingsmateriaal in Engels geskryf is. Engels Huistaal ontwikkel ook leerders se analitiese vermoë en denkvaardighede. Vir jou sterk akademiese leerder met taalaanleg bly Engels Huistaal dus die logiese keuse. Dit word jaarliks bevestig deur gesprekke met oud-leerders wat tans aan universiteite studeer.

WISKUNDE OF WISKUNDIGE GELETTERDHEID

Daar is geen HG- of SG-vakke soos voorheen nie. In die sillabus vir Wiskunde word die meeste van die inhoud tot op die voormalige HG-vlak aangebied. Leerders wat dus Wiskunde in gr.10 tot 12 wil neem, MOET ‘n stewige basis van gr.8- en gr.9-Wiskunde hê. ‘n Leerder wat nie in gr.9 ten minste 50% of meer vir Wiskunde kry nie, kan probleme ervaar om ‘n naskoolse kursus wat Wiskunde vereis, te neem en moet dus reeds van die begin af liewer Wiskundige Geletterdheid kies.

Wiskunde is die meer akademiese vak. In Wiskunde word daar gefokus op algebra, funksies en grafieke, asook trigonometrie. Dit is ‘n universiteitstoelatingsvak

    Die leerder wat Wiskunde kies:
  • moet in gr. 9 ten minste 50% of meer vir Wiskunde kry.
  • Die leerder wat na gr. 12 ‘n loopbaan of ‘n kursus aan ‘n universiteit of universiteit van tegnologie (voorheen technikon) wil volg waarvoor Wiskunde ‘n vereiste is, moet Wiskunde kies, indien sy/haar punte dit toelaat.
  • moet bereid wees om baie ure agter die boeke te sit om Wiskunde te oefen.
  • moet reeds in gr.8 en 9 bewys dat hul daagliks gedissiplineerd en selfstandig kan werk.
  • (‘n Leerder wat in gr. 9 nie selfstandig en getrou werk nie, gaan sukkel met Wiskunde, maar so ook met al die ander vakke in gr.10-12).

Wiskundige Geletterdheid is ‘n meer praktiese vak vir alledaagse gebruik. In Wiskundige Geletterdheid word daar gefokus op: finansiële wiskunde (bv. wins en verlies, begrotings, beleggings, rente, lenings, belasting, verhoudings, meting, skaalplanne en kaartlees, data/statistiek).

Dit is ‘n waardevolle vak vir leerders wat nie Wiskunde nodig het vir naskoolse studie nie. Wiskundige Geletterdheid is ‘n universiteitstoelatingsvak vir kursusse wat nie Wiskunde vereis nie.

    Die leerder wat Wiskunde Geletterdheid kies is:
  • die leerder wat in gr. 9 minder as 50% vir Wiskunde behaal.
  • Die leerder wat nie belangstel om na gr. 12 verder aan ‘n universiteit of technikon te studeer in ‘n rigting waarvoor Wiskunde vereis word nie (selfs al kry hulle 50%+ vir Wiskunde in graad 9)

FISIESE WETENSKAPPE (NATUUR- EN SKEIKUNDE)

    VAKINHOUD
  • Meganika: beweging in een dimensie, gravitasie en meganiese energie
  • Golwe, klank en lig: golwe, geometriese optika
  • Elektrisiteit en magnetisme: magnetisme, elektrostatika, elektriese stroombane
  • Materie en materiale: klassifikasie van materie, die atoom, chemiese bindings en strukture
  • Chemiese verandering: chemiese formules, chemiese verandering, sintese- en ontbindingsreaksies
  • Chemiese sisteme: watersiklus, stikstofsiklus, die hidrosfeer
    Leerder wat dit kan neem:
  • Leerder moet belangstel in die fisiese en chemiese wetenskappe.
  • Leerder moet Wiskunde as vak neem en dus 50% of meer in gr.9 in Wiskunde behaal.
  • Leerder moet nie net werk kan memoriseer nie, maar moet logiese gevolgtrekkings kan maak, bewerkings kan doen en kennis kan toepas om probleme op te los.
  • Dit is ‘n universiteitstoelatingsvak.

BESIGHEIDSTUDIES

Dit is die studie van ‘n onderneming. Al die fasette om ‘n onderneming te begin en te bestuur, word in die vak onderrig

Die volgende modules word in gr. 10 hanteer:

    SAKEOMGEWING
  • Mikro: die onderneming self, bv. bestuur, personeel
  • Mark: die verbruiker, verskaffer, mededinger en tussengangers
  • Makro: politiek, ekonomie, sosiaal, fisies, wetlik, globale invloede op die onderneming
  • Sosiaal: ekonomies: probleme soos armoede, werkloosheid
  • Sektore: primêre, sekondêre en tersiêre
    SAKEGELEENTHEDE
  • Sakeplanne
  • Ligging van onderneming
  • Sakekontrakte en versekering
  • Keuse van ondernemingsvorm
    SAKEROLLE
  • Probleemoplossing
  • Selfbestuur
  • Interpersoonlike verhoudings
  • Gemeenskapsverantwoordelikheid
  • Jy en jou loopbaan
    SAKEBEDRYWIGHEDE
  • Sake-etiek
  • Bestuursvlakke
  • Algemene bestuur

Besigheidstudies is primêr ‘n leervak: daar word van leerders verwag om die kennis te memoriseer, te verstaan en toe te pas. Leerders moet ‘n groot volume werk kan memoriseer en met insig kan hanteer. Dit is ‘n universiteitstoelatingsvak.

Aanvullende vakke: Ontwerp, Rekeningkunde, Geografie, Rekenaartoepassingstegnologie

TOERISME

    Toerisme kan die volgende vakke komplementeer:
  • Handelsvakke: Besigheidstudies en Rekeningkunde
  • Sosiale Wetenskappe: Geografie
  • Dienste: Gasvryheidstudies
    LOOPBAANGELEENTHEDE
    Toerisme maak dit moontlik om ‘n wye verskeidenheid loopbaanrigtings te volg.
  • In die besigheidsrigting dek dit die toerismebedryf en al die sektore, nl. vervoer, akkommodasie, vermaak, attraksies. Dit sluit in: kennis van wisselkoerse en die vermenigvuldigerseffek, gehalte dienslewering en die reël van toere.
  • Loopbaanrigtings wat meer gerig is op die natuur word aangespreek in die leereenheid wat handel oor eko- en volhoubare toerisme. Toerisme-geografie, Wêrelderfenisterreine en die bewaring van natuur en kultuur is ook deel van die leerinhoud.
    Daar is loopbaangeleenthede in:
  • Avontuur
  • Landbou
  • Besienswaardighede
  • Sake
  • Kommunikasie
  • Kompetisies
  • Kultuur
  • Ekotoerisme
  • Geografiese toerisme
  • Gasvryheid
  • Bemarking
  • Advertensiewese
  • Mynbou
  • Toerisme-Organiseerders
  • Sport
  • Toerismebeleidsontwikkeling
  • Vervoer
  • Reisorganiseerder
  • Industriële en Kommersiële bemarking
    4 V’S van Toerisme
  • VERVOER
  • VERMAAK
  • VERBLYF
  • VOEDSEL
    UITKOMSTES
  • Toerisme as interverwante sisteem
  • Verantwoordelike en volhoubare toerisme
  • Toerisme geografie, aantreklikhede en reisneigings
  • Kliëntediens en kommunikasie

Enige leerder wat in hierdie veld belangstel en bereid is om hard te werk, kan toerisme as vak neem.

Leerders wat na skool ingenieurswese wil studeer, moet besef: Wiskunde is die kern van ingenieurswese en Fisiese Wetenskappe en Ingenieursgrafika en –ontwerp die ondersteuning van die kern. Dié vakke moet dus gesien word as die fokus van ingenieurswese en ‘n leerder moet ‘n sterk belangstelling en vaardigheid hierin toon. Verder is goeie probleemoplossingsvaardighede ‘n baie sterk aanbeveling. Die drie tegnologievakke en ingenieursgrafika en –ontwerp is baie goeie aanvullende vakke en eerstejaarstudente met hierdie agtergrond vind dat hulle ‘n definitiewe voordeel het bo leerders wat nie ‘n tegnologie-vak op skool gehad het nie.

MEGANIESE TEGNOLOGIE
Die vak sluit Motorwerktuigkunde, Pas- en Draaiwerk en Sweiswerk in.

Meganiese Tegnologie word geneem saam met Wiskunde, Fisiese Wetenskappe en Ingenieursgrafika en -ontwerp.

    Praktiese en teoretiese inhoud
  • Veiligheidsmaatreëls
  • Gereedskapuitkenning, gebruike en onderhoud van toepaslike basiese gereedskap en toerusting
  • Onderskeid tussen verskeie materiale en hul eienskappe
  • Gebruik van basiese tekeninge en die toepassing van ‘n verskeidenheid snymetodes om ‘n projek te maak
  • Gebruik van werksinstruksies en die toepassing van tydelike en permanente verbindingsmetodes
  • Uitvoer van basiese toetse om die verskillende meganiese beginsels uit te lig
  • Identifiseringstekens van slytasie op komponente van meganiese sisteme as gevolg van wrywing
  • Bewyslewering van bevoegdheid op basiese sisteme en beheer
  • Lewer ‘n demonstrasie van kennis in verband met die hooffunksies van die komponente van binnebrandenjins.
    Beroepsrigtings:
  • Meganiese Ingenieurs
  • Omgewingsingenieurs
  • Grondverskuiwingstoerusting-werktuigkundiges
  • Projekbestuurders
  • Metallurgiese Ingenieurs
  • Ketelmaker
  • Professionele opleiding en onderrig Vliegtuigwerktuigkundiges
  • Motor-/Dieselwerktuigkundiges
  • Ontwerp
  • Masjienoperateurs
  • Passers en sweisers in die metallurgiese ingenieursbedryf.

ELEKTRIESE TEGNOLOGIE

    Elektriese Tegnologie bestaan uit drie basiese afdelings:
  • Elektrisiteit
  • Elektronika
  • Digitale stelsels en programmering

Elektriese Tegnologie word saamgestel uit ‘n teoriepunt van 50% en ‘n praktiese punt van 50% wat deurlopende assessering insluit.

    Voorbeelde van beroepsrigtings:
  • Elektriese/elektroniese/megatroniese Ingenieurswese
  • Kliniese Ingenieurswese
  • Rekenaarwetenskap
  • Auto Elektries
  • Digitale tegnologie
  • Elektronika
  • Telekommunikasie
  • Elektries: Kommunikasie

Elektriese Tegnologie word geneem saam met Wiskunde, Fisiese Wetenskappe en Ingenieursgrafika en -ontwerp.

'n Sterk wiskundige agtergrond is noodsaaklik vir sukses.

SIVIELE TEGNOLOGIE

Alle betekenisvolle strukture wat ons gemeenskappe gehelp het met bly- of werkplek, is beplan, ontwerp en gebou deur die siviele ingenieur/siviele tegnoloog.

Siviele Tegnologie word geneem saam met Wiskunde, Fisiese Wetenskappe en Ingenieursgrafika en -ontwerp.

    Vakinhoude
  • materiale (hout, metaal, glas, plastiek, ens.) en toerusting (hand-en kraggereedskap)
  • veiligheid
  • konstruksie
  • toegepaste meganika
  • grafiese kommunikasie, bv. teken van huisplanne en basiese ontwerp
  • siviele dienste (watervoorsiening, rioolering, elektriese stelsels)
  • kosteberekening (hoeveelhede en pryse)
    Hoe weet ek Siviele Tegnologie is vir my?
  • Wil jy die bewoonde omgewing verbeter?
  • Hou jy daarvan om binnenshuise bedrywighede met die buitelewe af te wissel?
  • Is jy tegnologies nuuskierig en skeppend?
  • Hou jy daarvan om met mense te werk?
  • Sal jy daarvan hou om op enige plek aan groot projekte te werk?
    Wat doen siviele ingenieurs/siviele tegnoloë?
  • maak 'n streek leefbaar.
  • verskaf die tegniese kundigheid vir die beplanning, ontwerp en konstruksie van huise, paaie, brûe, damme en ander strukture
  • evalueer finansiële aspekte,
  • hou toesig oor die voorbereiding van gedetailleerde tekeninge
  • bestuur die toerusting, materiaal en mannekrag van die konstruksie
  • los probleme op, bv. besoedeling, infrastruktuur wat agteruitgaan, verkeersopeenhoping, energiebehoeftes en stedelike herbouing
    Voorbeelde van ander beroepsrigtings met siviele tegnologie:
  • Argitektuur
  • Omgewingsingenieurs
  • Landskapsargitektuur
  • Projekbestuurders
  • Stad- en streeksbeplanning
  • Bourekenkunde
  • Konstruksiebestuur
  • Landmeter

REKENINGKUNDE

Rekeningkunde is die vak vir die toekoms. Dit bemagtig leerders om suksesvolle besigheidsmense, entrepeneurs, ingenieurs, bestuurders, bemarkers, boere, aptekers en fisioterapeute te wees – om maar net ‘n paar te noem. Elke mens, van die student, die huisvrou en ma, tot by die besturende direkteur van ‘n groot maatskappy het die agtergrond wat Rekeningkunde hom/haar bied, nodig om finansies doeltreffend te bestuur.

    Leerders met Rekeningkunde as matriekvak kan in enige rigting gaan studeer:
  • VOO- en privaatkolleges: Nasionale sertifikate in Bemarking, Kantooradministrasie, Gasvryheidsdienste, Projekbestuur, Sportbestuur, Sekretarieel, ens.
  • Universiteite van Tegnologie: Besigheidsadministrasie, Finansiële inligtingstelsels, Rekenmeester, Bemarking, Grafiese ontwerp, Toerisme- en Ekotoerismebestuur, ens.
  • Universiteite: Geoktroieerde Rekenmeester, Bedryfsielkunde, Bourekenkunde, Regte, Aktuariële wetenskap, Forensiese Rekenmeester, Risikobestuur, Beleggingsbestuur en Bankwese, Sport- en Rekreasiebestuur, Kommunikasiebestuur, ens.

Dit is ‘n baie waardevolle vak omdat daar soveel werksgeleenthede in hierdie rigting is. Selfs vir leerders wat net met ‘n matrieksertifikaat aansoek doen vir ‘n pos.

    Inhoud:
  • Finansiële Inligting: finansiële state, brondokumente, hulpjoernale, oorboek na die grootboeke, proefbalans, uitwerking van transaksies op die rekeningkundige vergelyking, stel finale rekeninge en finansiële state op, basiese BTW-konsepte.
  • Bestuursrekeningkunde: Identifiseer basiese kostebegrippe, verduidelik basiese begrotingskonsepte.
  • Bestuur van hulpbronne: informele of inheemse boekhoustelsels, deurlopende voorraadstelsel, etiese kode in die finansiële omgewing, interne beheer/kontrole-prosesse
    Leerder wat dit kan neem:
  • Leerder moet belangstel in die velde wat hierbo uiteengesit is en bereid wees om baie hard te werk. Leerders leer om elke dag gedissiplineerd te werk omdat die vak dit vereis.
  • Dit is ‘n universiteitstoelatingsvak.
    Aanvullende vakke:
  • Wiskunde/Wiskundige Geletterdheid
  • Besigheidstudies
  • Toerisme
  • Rekenaartoepassingstegnologie
  • Ontwerp

LEWENSWETENSKAPPE (BIOLOGIE)

    Inhoud:
  • Selle, weefsels en molekulêre studies (seldeling, oorsake van kanker en ander weefselsiektes)
  • Strukture en beheer van prosesse in basiese lewenstelsels (bv. selrespirasie, gaswisseling, voeding)
  • Omgewingstudies (lewende en nie-lewende hulpbronne, voedingsiklusse, biome, energievloei)
  • Diversiteit, verandering en kontinuïteit (verskeidenheid in natuur, omgewings-volhoubaarheid). Sluit in: die geskiedenis van die aarde, fossiele en die klassifikasie van organismes.

Daar sal van die leerders verwag word om verskynsels te ondersoek, self inligting in te samel, asook om sekere vaardighede te ontwikkel.

    Leerder wat dit kan neem:
  • Leerder moet ‘n sterk belangstelling hê in die menslike en biologiese wetenskappe,
  • moet ook moeilike begrippe kan verstaan, kan leer en met insig kan toepas.
  • ‘n Lewendige belangstelling in die omgewing is definitief ‘n bonus.
  • Dit is ‘n universiteitstoelatingsvak.
    Aanvullende vakke:
  • Wiskunde
  • Fisiese Wetenskappe
  • Inligtingstegnologie
  • Rekenaartoepassingstegnologie
    Loopbaangeleenthede:
  • Alle Mediese rigtings
  • Veterinêre biologie (Veearts)
  • Landbou
  • Natuurbewaring, Biodiversiteit en Ekologie
  • Dierkunde en Plantkunde
  • Mikrobiologie
  • Laboratoriumwerk
  • Beroepe en navorsing in die menslike en biologiese wetenskappe
  • Mariene biologie
  • Sportwetenskap
  • Voedselbiotenologie
  • Somatologie (Skoonheidstegnologie)
  • Ens.

REKENAARTOEPASSINGSTEGNOLOGIE

    Inhoud:
  • Woordverwerking (Word), Sigblaaie (Excel), Databasis (Access) en nog ’n pakket (Powerpoint) vanuit die eindgebruiker se oogpunt.
  • Inligting word versamel, verwerk en sinvol aangebied.
  • Teorie: Apparatuur, Programmatuur, Rekenaarnetwerke en Sosiale en Etiese kwessies rondom rekenaars.
  • Akkuraatheid wel belangrik, maar ’n spoedtoets is opsioneel.
    Nut van vak:
  • Leerder word voorberei in die algemene gebruik van rekenaars in enige beroep.
  • By werksaansoeke in elke beroepsrigting word rekenaarvaardighede vereis of is dit ‘n aanbeveling.
  • Die rekenaarvaardighede wat in RTT onderrig word, is noodsaaklik vir voornemende entrepeneurs.
  • Die vak is baie waardevol vir leerders wat met net ‘n matrieksertifikaat aansoek wil doen vir werk.
    Leerder wat dit kan neem:
  • Moontlik vir enige leerder. (Moet in gedagte hou dat dit nie net prakties is nie en ’n groot hoeveelheid teorie ook geleer moet word.)
    Aanvullende vakke:
  • Ontwerp
  • Rekeningkunde
  • Toerisme
  • Geografie
  • Besigheidstudies

INGENIEURSGRAFIKA EN -ONTWERP

Die kern van Ingenieursgrafika en Ontwerp is om te leer hoe om in die konteks van Siviele, Meganiese en Elektriese Tegnologie te kan teken.

Ingenieursgrafika en -ontwerp sal die leerder leer om kreatiewe denke en tekenvaardighede te kombineer om probleme in die meganiese, siviele en elektriese ingenieursvelde op te los en hierdie oplossings te kan voorstel as werkende tekeninge. Tekeninge dien as kommunikasie en toon die beginpunt van die vervaardigings- of bouproses aan. Die korrekte hoë kwaliteit tekentoerusting behoort die leerder in staat te stel om bruikbare tekeninge te maak.

Die ingebruikneming van Rekenaar Ondersteunde Tekening (ROT) is ‘n opwindende toevoeging in Ingenieursgrafika en -ontwerp en sal die vak meer toepaslik maak vir die toekoms. In die ROT-module val die klem daarop dat die leerder vertroud daarmee sal raak om op ‘n rekenaar te teken. Die module is ontwerp om gebruik te word op enige tekenprogram. Die Onderwysdepartement het die skool toegerus met die “AllyCad”-tekenprogram.

Met Ingenieursgrafika en Ontwerp as vak sluit die hoofareas van werksgeleenthede Elektriese, Elektroniese, Siviele, Meganiese en Rekenaar-ingenieurswese in.

Ander beroepsmoontlikhede met hierdie vak, sluit in: Argitek, Tekenaar, Ambagsman en Ontwerper (bv. Juweliersware-ontwerp of mode/klere-ontwerp). Dit is ‘n universiteitstoelatingsvak.

GEOGRAFIE

Geografie is nie net ‘n akademiese vak nie, dit is ‘n belangrike wetenskap met verreikende implikasies vir besighede en regeringsinstansies.

    Die vak sluit in:
  • Kaartwerk
  • GIS-Aardrykskundige toepassing met behulp van Rekenaartegnologie.
  • Klimaatkunde (atmosferiese lae, weerstelsels, aardverwarming)
  • Struktuur van die aarde, landvorms, interne en eksterne kragte
  • Bevolking (bevolkingsgroei, -eienskappe, -beheer, -vraagstukke, -dilemmas)
  • Organisasies (burgerlik, nasionaal, internasionaal)
    Toepassing van Geografie in die alledaagse lewe:
  • Besigheid – Bankwese, Versekering, Logistiek, Media, Eiendomme, Verkoopswese.
  • Regerings – Nasionale Bestuur, Plaaslike Bestuur, Binnelandse Sekuriteit, Militêre Verdediging,
  • Nooddienste, Wetstoepassing, Gesondheidsdienste, Vervoer.
  • Opvoeding en Wetenskap – Navorsing, Biblioteke en Museums, K12-Opvoeding.
  • Omgewingsbestuur – Water, Oseane, Land, Natuurlewe, Plantegroei
  • Natuurlike Hulpbronne – Landbou, Bosbou, Mynbou, Olie en Gas
  • Ander – Kragvoorsiening, Elektrisiteit, Gas, Telekommunikasie, Waterbesparing
    BEROEPE:
  • Omgewingsbestuur
  • Bestuur en Administrasie
  • Besigheid en Finansies
  • Wetenskaplike Dienste
  • Inligtingsdienste
  • Reis en Toerisme
  • Opvoeding, Professionele en Maatskaplike Dienste
  • GIS-spesialis
  • Stadsbeplanning
  • Omgewingsimpaksudies
    Leerder wat dit kan neem:
  • Leerder moet ‘n sterk belangstelling hê in bogenoemde velde, asook in die fisiese, sosiale, politieke en ekonomiese omgewing waarin ons leef.
  • Leerders moet vakinhoude van ‘n hoë moeilikheidsgraad kan bemeester, maar ook insig toon en die kennis kan toepas.
  • Dit is ‘n universiteitstoelatingsvak.
    Aanvullende vakke:
  • Rekeningkunde
  • Toerisme
  • Besigheidstudies
  • Rekenaartoepassingstegnologie

ONTWERP:

Ontwerp bestaan uit vier afdelings wat almal in graad 10 onderrig word, nl. Visuele Kommunikasie Ontwerp, Oppervlakontwerp, Produkontwerp en Omgewings-ontwerp.

Vanaf gr.11 spesialiseer die leerders in Visuele Kommunikasie Ontwerp. Dit sluit in: grafiese ontwerp, ontwerp van advertensies en verpakking, digitale ontwerp, animasie, film en video, illustrasies, inligtingsontwerp en fotografie.

    Die leeruitkomste van ontwerp is:
  • Die ontwerpproses
  • Ontwerpproduksie
  • Ontwerp in konteks (Hier word gekyk na die impak en rol van ontwerp in die kulturele lewe, in besigheid en in omgewing – histories en vandag.)

Die vak bestaan uit ‘n praktiese en teoretiese komponent. 25% van die leerder se punte bestaan uit deurlopende assessering (toetse, eksamens en praktiese take) en 75% uit ‘n finale eksamen (150 punte teoretiese eksamen, 100 punte praktiese eksamen, 50 punte vir uitstalling van jaar se praktiese take)

Vakke wat saam met Ontwerp aanbeveel word: Besigheidstudies, Rekeningkunde, RTT

Leerder wat dit kan neem: Teken, handvaardigheid, probleemoplossingsvaardighede en kreatiwiteit is belangrik.

Ontwerp as vak word aanbeveel vir naskoolse studierigtings soos: grafiese ontwerp, mode-ontwerp, binneshuise ontwerp, juweliersontwerp en -vervaardiging, oppervlakontwerp en drie-dimensionele ontwerp.

INLIGTINGSTEGNOLOGIE

Inhoud: Java-programmering, Databasis-ontwikkeling, sigblaaie en teorie oor apparatuur, programmatuur, rekenaarnetwerke, e-kommunikasie en sosiale en etiese kwessies rondom rekenaars.

Nut van vak: Leerders leer basiese programmeringsvaardighede. Berei leerders voor vir ’n beroep in rekenaars of verdere studie in programmering en inligtings- en kommunikasie-tegnologie.

Ander Vakke: Moet saam met Wiskunde geneem word.

Leerder wat dit kan neem: Moet toegang hê tot ‘n rekenaar tuis.

Moet ’n baie goeie aanleg in Engels en Wiskunde (gem. bo 75%) hê, moet deursettingsvermoë hê en moet lief wees vir probleemoplossing,. Dit is ‘n uiniversiteitstoelatingsvak

Copyright © 2012  ::  Langenhoven Gimnasium  •  Site by:  WebWorX