In 1913 is die Industriële Skool deur die NG Kerk gestig met die doel
om aan seuns die geleentheid te bied om hulself in ‘n ambag te bekwaam.
Nadat die Unie-Onderwysdepartement die skool in 1930 oorgeneem het, is
‘n volwaardige handelsrigting saam met die ambagrigting ingestel.
Vanaf 5 Junie 1935 staan die skool amptelik bekend as die Langenhoven
Vakskool.
In 1935 is daar besluit dat die skool twee afsonderlike skole sal word.
Vanaf 1 April 1936 staan die twee skole bekend as die Hoër Handelskool
Langenhoven en die Ambagskool. Die Hoër Handelskool Langenhoven is eers
in die Fostergebou, vanaf 1938 in ‘n gebou langsaan en in 1971 in die
nuwe skoolgebou op die hoek van Adderleystraat en Voortrekkerweg gehuisves.
Die Ambagskool verhuis in 1945 na Lugskool 45, die bekende Suid-Basis,
en staan van toe af bekend as die Hoër Tegniese Skool. Op 10 Augustus
1977 is die nuwe skool- en koshuisgeboue, waarin die leerders tans
gehuisves word, in gebruik geneem.
Vanaf 1 Januarie 1987 verkry die handelskool die status van ‘n gewone
hoërskool en word die naam verander na Hoërskool CJ Langenhoven.
Vanaf 1 Mei 1992 word beide skole Model C-skole en amalgameer op 1
Januarie 1993. Op 19 Januarie 1993 word die nuwe skool, Langenhoven Gimnasium,
met ‘n algemene, ‘n handels- en ‘n ingenieursrigting geopen.
Op hierdie wyse herhaal die geskiedenis hom dus met die hersamevoeging van
die twee skole, ná ‘n skeiding van 57 jaar.